Kraakvorming in plastiese vars beton

Cracking in plastic fresh concrete

  • Daniël M Meyer University of Stellenbosch
  • Riaan Combrinck Universiteit van Stellenbosch
Keywords: plastiese krimp, plastiese versakking, kapillêre druk, volume verandering

Abstract

Vars of plastiese beton beskryf die toestand van beton gedurende die eerste paar ure nadat die beton gegiet is. Vars beton het nog nie verhard nie en het ‘n baie lae treksterkte. Plastiese vervorming in vars beton kom voor in die vorm van plastiese versakking en plastiese krimp. Hierdie vervormings kan lei tot kraakvorming in beton in gebiede waar die beton versper word teen vrye volume verandering.

Die hoof meganisme wat plastiese krake veroorsaak is die opbou van kapillêre druk weens die verdamping van water uit die beton. Kapillêre druk verwys na die negatiewe druk, of suigkrag, wat ontstaan tussen die deeltjies van die beton wanneer die water verdamp uit die porieë van die beton. Dit word vererger deur ongunstige weersomstandighede wat die verdampingstempo verhoog.

Kraakvorming in vars beton is een van die hoof faktore wat bydra tot probleme met die duursaamheid en bruikbaarheid van betonstrukture. Die doel van hierdie studie is om krake te voorkom deur die verskynsel van kraakvorming, beide plastiese versakkings- en krimpkrake, beter te verstaan in terme van die bydraende meganismes, die interaksie tussen die twee kraaktipes en die omliggende klimaatstoestande.

In die studie word ‘n deeglike literatuurstudie gedoen oor volume verandering en kraakvorming in vars beton. ’n Gevallestudie word ook ondersoek om die oorsake van plastiese krake in ’n betonpad te identifiseer en vas te stel hoe die krake vorm.

Alhoewel die betonpad gegiet was van dieselfde mengsel en in dieselfde vorm, het slegs sekere segmente krake gevorm. Daar is vasgestel dat die variërende klimaatsomstandighede veroorsaak het dat sekere segmente kraak terwyl ander nie kraak nie. Daar is ook ’n definitiewe interaksie tussen die krake gevorm deur plastiese versakking en plastiese krimp.

Kraakvorming is die gevolg van beide plastiese versakking en plastiese krimp, alhoewel plastiese krimp hoofsaaklik die vergroting van die krake beïnvloed. Een van die belangrikste invloede wat die kwaliteit en duursaamheid beïnvloed, is die doeltreffendheid van die kuur van die beton, aangesien effektiewe kuring die opbou van kapillêre druk in die beton vertraag of voorkom, wat die risiko van plastiese krimpkrake verminder.

’n Deeglike kennis van hierdie verskynsels en die meganismes wat bydrae tot die kraakvorming, kan lei tot die voorkoming daarvan. Daar moet dus goeie voorsorgmaatreëls en konstruksiemetodes gevolg word wanneer beton gegiet word. Byvoorbeeld, die gevallestudie het gewys dat beton slegs gegiet moet word in weerstoestande wat nie ’n hoë potensiaal vir plastiese krimpkrake het nie. Die toepassing van die kennis kan die kwaliteit en duursaamheid van betonstrukture verbeter.

Author Biographies

Daniël M Meyer, University of Stellenbosch

Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika

Riaan Combrinck, Universiteit van Stellenbosch

Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika

Published
2021-10-20
How to Cite
Meyer, D., & Combrinck, R. (2021). Kraakvorming in plastiese vars beton. Suid-Afrikaans Tydskrif Vir Natuurwetenskap En Tegnologie / <i>South African Journal of Science and Technology</I&gt;, 40(1), 103-113. Retrieved from http://satnt.co.za/index.php/satnt/article/view/854
Section
Articles