’n Raamwerk vir Digitale Transformasie vir Kitsdiensrestaurante: ’n Gevallestudie in Afrika Suid van die Sahara

Digital Transformation Framework for Quick Service Restaurants: A Sub-Saharan Africa Case Study

  • C Govender Universiteit van Suid-Afrika
  • V Naicker Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie
Keywords: gevallestudie, digitaal, digitale ontwrigting, digitale ekonomie, digitale transformasie, kitsdiensrestaurant (KDR)

Abstract

Doel: Sedert die eeuwending het meer as 50% van alle Fortune 500-organisasies bankrot gespeel, of is oorgeneem, of het ophou bestaan. Die val van hierdie multinasionale reuse word grootliks toegeskryf aan die ontwrigting van tradisionele sakemodelle deur digitale modelle. As gevolg van digitale ontwrigting deur maatskappye soos Uber (e-taxidienste), Grubhub en DoorDash (kos/restaurant) en Airbnb (gasvryheid) het digitale transformasie ‘n strategiese prioriteit vir organisasies geword. Die koms van die COVID-19-virus in 2020 het organisasies se planne vir digitale transformasie versnel. Die uitdaging wat organisasies in die gesig staar, is dat die meerderheid in hul digitaletransformasiepogings misluk. Hierdie studie het gefokus op digitale transformasie in die kitsdiensrestaurant-bedryf (KDR-bedryf ).

Metodologie/benadering: Die studie het ten doel gehad om insigte by te dra in hoe KDR-organisasies digitale transformasie kan betrek, moontlik maak en bestuur. Gevallestudienavorsing kan gebruik word om by te dra tot kennis van individuele, groeps- of organisatoriese en verwante verskynsels en stel navorsers in staat om werklike gebeure soos organisatoriese en bestuursprosesse en die volwassewording van bedrywe te verstaan. KDR-organisasies gee die toon aan in die restaurantsektor vir sover dit digitale verbeterings, die versnelling van innovasie en digitale outomatisering in die toekoms betref. Daarom is ‘n longitudinale gevallestudie met ‘n multinasionale KDR-organisasie onderneem, waarin kwalitatiewe navorsingsmetodologieë aangewend is, met halfgestruktureerde diepteonderhoude, deelnemerwaarnemings en dokumentontleding.

Bevindinge en aanbevelings: Daar is bevind dat KDR-organisasies hul digitale transformasie moet begin deur ‘n globale strategie te skep en dit by die plaaslike mark of die land se spesifieke nuanses aan te pas. Organisasies moet skaalbare platforms sentraal ontwikkel, deur middel van sentrums van uitnemendheid, en digitale oplossings en vermoëns oor die verskillende markte heen ontplooi. Organisasies moet genoeg tyd daaraan toewys om op die digitale argitektuurentegnologiestrategie te fokus, en kern- digitale tegnologieë, soos wolk-, mobiele en groot data, vir hul digitaletransformasieprogram te benut. Organisasies wat ‘n digitaletransformasiestrategie uitvoer, moet van die begin af toepaslik vaardige personeelkomplemente in diens neem en digitaletransformasiedoelwitte as deel van hul veranderingsbestuur in alle departementele en personeeldoelwitte integreer. Soepel sagteware-afleweringsmetodes, datagedrewe besluitnemingsbeginsels en toetsenleerbenaderings is aanbevole praktyke wat as deel van digitale transformasie geïmplementeer moet word.

Oorspronklikheid/waarde: Verskeie organisasies worstel met digitale transformasie. Hoewel daar literatuur beskikbaar is oor die komponente wat nodig is vir digitale transformasie, ontbreek ‘n gedetailleerde raamwerk of gestruktureerde leiding oor hoe organisasies suksesvolle digitale transformasie kan aanpak. Die studie demonstreer oorspronklikheid deur ‘n raamwerk vir digitale transformasie vir die KDR-bedryf in Afrika te ontwikkel. Die ontwikkeling van die raamwerk vir digitale transformasie verskaf ‘n bloudruk wat organisasies kan aanneem om digitale transformasie aan te pak. Die studie het beide teoretiese en praktiese implikasies vir die bestuur van digitale transformasie. Die bevindinge en raamwerk vir digitale transformasie kan breër wêreldwye toepaslikheid buite Afrika suid van die Sahara hê.

Author Biographies

C Govender, Universiteit van Suid-Afrika

Nagraadse Skool vir Sakeleierskap, Universiteit van Suid-Afrika, Suid-Afrika

V Naicker, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie

Fakulteit Ondernemingsbestuur, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Suid-Afrika

Published
2024-05-14
How to Cite
Govender, C., & Naicker, V. (2024). ’n Raamwerk vir Digitale Transformasie vir Kitsdiensrestaurante: ’n Gevallestudie in Afrika Suid van die Sahara. Suid-Afrikaans Tydskrif Vir Natuurwetenskap En Tegnologie / <i>South African Journal of Science and Technology</I&gt;, 43(1), 29-53. Retrieved from http://satnt.co.za/index.php/satnt/article/view/976
Section
Gevalle Studie