Telepraktyk en die behandeling van volwassenes met primêre en sekondêre spierspanningsdisfonie: ʼn Omvangsbepaling
Telepractice and the treatment of adults primary and secondary muscle tension dysphonia: A Scoping review
Abstract
Agtergrond: Spierspanningsdisfonie (SSD) verwys na ’n stemprobleem (disfonie) wat veroorsaak word deur die wangebruik van ’n persoon se stembande. Die COVID-19-pandemie het die gebruik van telepraktyk in gesondheidsorg na vore gebring. Hierdie artikel het die behandeling van spierspanningsdisfonie in volwassenes deur die gebruik van telepraktyk ondersoek.
Doelstellings: Om die bestaande literatuur sistematies te ondersoek deur middel van ’n omvangsbepaling en te bepaal wat bekend is oor die onderwerp; en om spraakterapeute bekend met telepraktyk vir stemprobleme te raadpleeg om die bevindinge te kontekstualiseer in die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgkonteks.
Metode: ’n Omvangsbepaling is volgens die PRISMA-ScR-raamwerk uitgevoer. Slegs studies oor telepraktyk vir die behandeling van primêre SSD wat tussen 2000 en 2022 gepubliseer is, is ingesluit. Ses spraakterapeute wat tans in privaat praktyke in die Wes-Kaap en Gauteng werksaam is, is geraadpleeg oor die bevindinge.
Resultate: Die soektog van vyf databasisse het aanvanklik 121 studies opgelewer, maar slegs 4 artikels het aan die insluitingskriteria voldoen. Die deelnemers aan die konsultasiefase se response is ontleed ten opsigte van hulle menings oor die bevindinge in die artikels, toepassing daarvan op hul eie ervaring in hul praktykvoering, en implikasies vir die Suid-Afrikaanse konteks.
Gevolgtrekking: Telepraktyk vir primêre en sekondêre spierspanningsdisfonie bied potensieel baie voordele, en kan dienslewering in gesondheidsorg in Suid-Afrika bevorder en verbeter. Probleme met tegnologie, toegang tot die internet en elektrisiteitsvoorsiening, en weerstand deur pasiënte en terapeute kan egter juis die persone wat die meeste benadeel word deur ongelykhede in gesondheidsorg, nog verder benadeel.