Chemiese aanpassing van ZIF-67 nanodeeltjies vir toepassing as geneesmiddeldraers
Chemical adaptation of ZIF-67 nanoparticles for application as drug carriers
Abstract
Metaalorganiese raamwerke (MOFs) is mikroporeuse kristallynstrukture wat uit oorgangsmetaalione bestaan wat onderling deur organiese ligande verbind is. Zeolitiese imidasolaat raamwerke (ZIFs) is MOF-materiale waarvan die oorgangsmetaalnodes onderling deur middel van imidasolaat ligande verbind is. Die topologie van die ZIF-materiale is soortgelyk aan dié van zeoliete. ZIF-materiale is oor die algemeen in ’n hoë mate termies en chemies stabiel. Die uiterste stabiliteit van ZIF-materiale in lug en vog maak hulle geskik vir toepassings in gasberging, katalise en as geneesmiddeldraers. Hierdie navorsingsprojek fokus op die biomediese toepassing van ZIF-67 na die post-sintetiese aanpassing daarvan met 2-aminobensimidasool en ferroseenkarboksielsuur.