Riglyne vir gasredakteurs

Die gasredakteur kies 'n interdissiplinêre tema, bv. energie, en samel bydraes in van skrywers uit verskillende vakgebiede. Andersins word 'n vakspesifieke tema, soos kristallografie, gekies en alle bydraes handel hieroor.

Die gasredakteur voorsien binne twee maande die tema en ʼn lys van beoogde titels en outeurs asook ʼn keerdatum waarop alle bydraes by die hoofredakteur van die SATNT, prof. Oppel BW Greeff, ingedien word (oppel.greeff@cytespace.com).

Indien dit vir die gasredakteur duidelik is dat daar min keurders is vir die gekose tema in Suid-Afrika, moet die gasredakteur met die hoofredakteur skakel om die volgende uitgebreide verantwoordelikhede van die gasredakteur met die hoofredakteur uit te klaar, byvoorbeeld: Die gasredakteur

  1. sien toe dat die manuskripte voldoen aan die nodige vereistes soos uiteengesit in die Voorskrifte aan skrywers by http://www.satnt.ac.za/index.php/satnt/about/submissions;
  2. ontvang instruksies van SATNT wat vir keurders gegee word;
  3. bepaal die taal van die werkkopie van die bydraes wat toeganklik sal wees vir die beoogde keurders, byvoorbeeld Engels;
  4. identifiseer keurders;
  5. behartig voorlopige korrespondensie met keurders;
  6. hanteer outeurs se teenkritiek teenoor besonder kritiese keurders (soos wat dikwels die geval is);
  7. onderneem die aanvaarding van manuskripte voordat dit finaal by die SATNT ingedien en gekeur word;
  8. behartig die tegniese taalversorging van die Afrikaanse vertaling, indien beskikbaar, teenoor die gekeurde werkkopie, indien die werkkopie in Engels is;
  9. kom met die hoofredakteur ooreen hoe finale kopieë by die SATNT ingedien sal word, byvoorbeeld direk deur die outeurs aan die hoofredakteur of via die gasredakteur na die hoofredakteur.

Wanneer die Afrikaanse bydrae gepubliseer word, sal 'n skakel lesers lei na die Engelse kopie. Indien slegs ʼn Engelse kopie ingedien word (met toestemming dat dit in Afrikaans vertaal mag word), sal die SATNT self ʼn professionele Afrikaanse vertaling laat doen. Die SATNT sal wel alle kopieë finaal taalversorg.

Andersyds (meer beperkte verantwoordelikhede) tree die gasredakteur(s) self as eerste keurder op en skaaf waar nodig aan manuskripte en/of beveel wysigings by die outeur(s) aan. Eers wanneer die gasredakteur tevrede is met ʼn bydrae, kan die skrywer van die bydrae versoek word om dit in te dien by die SATNT. Die skrywer kan/moet aandui dat dit ʼn bydrae is wat onder leiding van ʼn gasredakteur geskep is. Die hoofredakteur is op daardie stadium reeds deur die gasredakteur voorsien van die lys van artikels.

By ontvangs sal die SATNT die finale keuring doen deur die bydraes na verskillende keurders te stuur. Die keurders se kommentaar sal direk met die skrywers gekommunikeer word.

Ook in die geval van spesiale uitgawes van die tydskrif, sal manuskripte onderworpe wees aan ewekniebeoordeling en keuring.