Vloeichemie is moderne tegnologie wat gebruik kan word vir die ekonomiese vervaardiging van fyn chemikalië, veral vir aktiewe farmaseutiese middels in ’n omgewing waar die ekonomie van skaal gewoonlik nie gerealiseer word nie. Vloeichemie word gedefinieer as die gebruik van deurlopende prop-vloei-reaktors in plaas van konvensionele reaktors (Ley & Baxendale
Vloeichemie maak gebruik van geïmmobiliseerde reagense, opruimers en vang-en-vrystel-tegnieke om van die probleme, wat tradisioneel geassosieer word met konvensionele lotsintese, soos bewerking, suiwering en optimisering, te oorkom. Tradisionele glasware word vervang deur patrone en kolomme wat voor gebruik met verskeie soliededraer-reagense gepak kan word, of deur reaksiemikroskyfies en -kronkels wat die beheerbare meng van reagense saam met uitstekende beheer van reaksietemperatuur toelaat (Baxendale et al
Van die voordele van vloeichemie, in vergelyking met lotreaksies, lei tot hoër spesifisiteit, hoër opbrengs, hoër deurset teen laer reaktorvolumes, laer produksiekoste, verbeterde meng- en skaalvergroting, sowel as beter gebruik van oplosmiddels en chemikalieë, om ’n paar te noem. Vloeichemie word wel benadeel deur duur toerusting en is slegs bruikbaar as die vorming van presipitate vermy kan word. (Ley & Baxendale
Ons ondersoek die gebruik van hierdie tegnologie vir die produksie van verskeie fluoorbevattende, aktiewe farmaseutiese middels met die doel om te bewys dat vloeichemie meer toepaslik as tradisionele lotsintese is. Ons pogings tot ’n vinnige, hoë opbrengssintese van Celecoxib, ’n anti-inflammatoriese COX-II-stremmer, sowel as die vordering met die sintese van ander fluoorbevattende, aktiewe farmaseutiese middels en tussenprodukte, word aangebied.
Die vloeiroete wat ontwerp is, lewer ’n hoë opbrengs Celecoxib, met verminderde reaksietye, en die proses word as geheel in groen oplosmiddels gedoen. Toekomstige doelwitte behels die ontwikkeling van ’n vloeiproses waardeur arielhidrasiene as arielfluoriede verkry kan word.