Kliniektuine in die Ngaka Modiri Molema-distrik munisipaliteit, Noordwes Provinsie: Plantegroei, bestuur en sosiale aspekte

Authors: S. Maré1, S.S. Cilliers1
Affiliations: 1Department of Environmental Sciences and Management, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Correspondence to: S. Maré
Postal address: Private Bag X11, Arcadia 0007, South Africa
How to cite this abstract: Maré, S. & Cilliers, S.S., 2014, ‘Kliniektuine in die Ngaka Modiri Molema-distrik munisipaliteit, Noordwes Provinsie: Plantegroei, bestuur en sosiale aspekte’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 33(1), Art. #1233, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/satnt.v33i1.1233
Note: This paper was initially delivered at the School of Environmental Sciences and Development of the North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa on 05 October 2012.

Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract
Open Access

Clinic garden survey in the Ngaka Modiri Molema district municipality, North-West Province: Vegetation, management and social issue. This study focused on the relationship between the environment, socio-economics and health aspects of rural Tswana communities and their clinic gardens. The results provided insight on species diversity and purposes, reasons for managing clinic gardens as well as available resources for improving and possible up-scaling to community gardens.

Inhoud
Open Access

Die toenemende impak van bevolkingsgroei, verstedeliking en klimaatsverandering op die natuurlike omgewing is veral in ontwikkelende lande ’n groot realiteit. In Suid-Afrika word daar verwag dat 66.6% van die bevolking in stedelike gebiede sal woon teen die einde van 2025. Alhoewel stedelike gebiede ’n relatiewe klein oppervlakte van die aardoppervlak beslaan, word die ekologiese impak daarvan oor plaaslike grense versprei om klimaats- en biodiversiteitveranderinge globaal te beïnvloed. Afgesien van transformering en fragmentering van natuurlike ekosisteme beïnvloed verstedeliking ook die sosio-ekonomiese wêreld van die mens. Persoonlike- en gemeenskapsgesondheid is ‘n paar van die belangrikste maatskaplike kwessies wat met multifunksionele, formele groengebiede soos tuine geassosieer word. Stedelike randspreiding en die oorskryding daarvan in landelike habitats lei tot ’n afname in die kwaliteit van hierdie habitats, en dus word tuine toenemend belangrik vir die beskerming van die inheemse biodiversiteit. Landelike gemeenskappe, soos die Tswana-gemeenskappe in die Noordwes-provinsie, het ‘n duidelike uitleg vir hul tuine, ook bekend as ‘n Tswana ‘tshimo’. Die ‘tshimo’ bestaan uit ses kenmerkende mikro-tuine, onder andere voedsel-, ornamentele- en medisinale tuine, funksionele strukture, oop areas en natuurlike gebiede, elk met ‘n spesifieke spesiesamestelling en funksie. Die belangrike rol van stedelike landbou as ‘n meganisme vir die verligting van armoede en die bevordering van gesondheid het die afgelope tyd baie aandag, veral van vooraanstaande internasionale ontwikkelingsagentskappe ontvang Die Wêreldkommissie oor die Omgewing en Ontwikkeling (WKOD) het ’n beroep op regerings van ontwikkelende lande gedoen om stedelike landbou aan te moedig en te befonds sodat voeding- en gesondheidstandaarde, familiebegrotings en werksgeleenthede verbeter kan word. Die huidige studie is geïnisieer deur die Departement van Gesondheid van die Noordwes-provinsie, Suid-Afrika. Daar word gepoog om groentetuine by provinsiale klinieke te ontwikkel ten einde ekosisteemdienste soos voorsiening, regulering, kulturele en ondersteunende rolle te verhoog en sosio-ekonomiese en gesondheidsaspekte aan te spreek. Die belangrikste doel met hierdie studie was om die verhouding tussen die omgewing en die sosio-ekonomiese en gesondheidsaspekte van hierdie Tswana gemeenskappe te bepaal. Die inligting versamel het insig verleen oor die diversiteit en gebruike van die plantspesies in die tuine asook die bestuurs- en onderhoudspraktyke van die tuine sowel as die beskikbare hulpbronne vir bestaande tuine, die vestiging van nuwe tuine en opgradeer tot gemeenskapstuine. Tydens hierdie studie is 50 klinieke van drie subdistrikte van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit bestudeer ten einde spesiesamestelling, verspreiding, volopheid en doel binne die kulturele Tswana ‘tshimo’s’ vas te stel. Plante is tot spesievlak geïdentifiseer en dan geklassifiseer ten opsigte van doel en posisie in elk van die ses mikrotuine. Grondmonsters is ook versamel en analiseer vir sand:klei verhouding, voedingswaarde en pH-vlakke om toeligting ten opsigte van toekomstige tuinboupraktyke soos toediening van kompos ens., te kan verskaf. In hierdie studie is 344 plantspesies versamel, waarvan 56% uitheemse, 32% natuurlike en 12% inheemse spesies is. Twintig persent van die versamelde kan vir voedsel en drank, vaardighede en kunswerke, en medisyne gebruik word. Verder het 92% van die klinieke groente geplant en 84% van die tuine het natuurlike gebiede met medisinaal belangrike plante bevat. Vraelyste oor die bestuur van die tuine en ander sosiale aspekte het insiggewende resultate gelewer oor die doel en ontwikkeling van die groentetuine. Kliniekbestuur sowel as versorgers vanaf staatsdepartemente onderhou die tuine vir die ondersteuning van MIV-, VIGS- en TB-pasiënte en vir ondervoede individue van die gemeenskap. Die moontlike ontwikkeling van nuwe en uitbreiding van bestaande tuine bied aan die gemeenskap ’n geleentheid tot opvoeding van volhoubare en verantwoordelike bestuur van hulle direkte omgewings.