Toeganklikheid van die skool in jou omgewing: ’n Konflik tussen ligging en kwaliteit, met die klem op Gauteng

Author: Richelle Pienaar1
Affiliations: 1Department of Geography, Environmental Management and Energy Studies, University of Johannesburg, South Africa
Correspondence to: Richelle Pienaar
Postal address: PO Box 524, Auckland Park 2006, South Africa
How to cite this abstract: Pienaar, R., 2014, ‘Toeganklikheid van die skool in jou omgewing: ’n Konflik tussen ligging en kwaliteit, met die klem op Gauteng’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 33(1), Art. #1017, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/satnt.v33i1.1017
Note: A selection of conference proceedings: Student Symposium in Science, 27 and 28 October 2012, North-West University, South Africa. Organising committee: Mr Rudi W. Pretorius (Department of Geography, University of South Africa), Dr Ettienne Snyders (South African Nuclear Energy Corporation [NECSA]) and Dr Cornie G.C.E. van Sittert (School of Physical and Chemical Sciences, North-West University).

Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Referaatopsommings
Open Access

Abstract
Accessing one’s neighbourhood school: A conflict between location and quality? The case of Gauteng. Neighbourhood schools do not always offer a quality education. This research investigates if there is a link between the location of a school and the quality education it offers, by making use of data such as the matric passrate, quantile ranking, teacher-learner ratio, school fees and the location of the school.

Inhoud
Voor 1994 het die woongebied waarin ’n leerling gewoon het bepaal tot watter skole die leerling toegang gehad het. Nadat Suid-Afrika in 1994 ’n demokratiese bedeling aanvaar het, het ouers die probleem gehad dat die naburige skole nie altyd die beste kwaliteit onderwys gebied het nie. Die gevolg hiervan was dat hulle na woongebiede nader aan kwaliteitskole moes trek, elke dag hulle kinders na kwaliteitskole moes aanry of hulle kinders by privaat skole moes inskryf. Hierdie navorsing is gedoen om te bepaal of daar ’n ooreenkoms is tussen die ligging van ’n skool en die kwaliteit van onderwys wat aangebied word. Die volgende data is gebruik: die woongebied waarin die skool geleë is, die kwintielrangorde van die skool, skoolfonds betaalbaar per jaar, die aantal opvoeders waaroor die skool beskik (staatsposte en bestuursliggaamposte), die aantal leerlinge in die skool en die matriekslaagsyfer van 2010 en 2011. Met die ontleding van die data is gebruik gemaak van woongebieddata om te bepaal of die skool in ’n vorige wit of Afrika woongebied (sluit in swart, bruin- en Indiërgebiede) geleë was. Die inligting, sowel as die skoolfondsdata en die gemiddelde matriekslaagsyfer, is gebruik om te bewys dat daar wel ’n ooreenkoms is tussen die apartheidsligging, die slaagsyfer en die skoolfonds betaalbaar per jaar. Verdere analise sluit die korrelasie tussen die opvoeder-leerling-verhouding en die slaagsyfer in. Al die uitkomste van die data-analiseringsfase is grafies voorgestel in die vorm van grafieke en kaarte. Die navorsing het bevind dat die ligging van die skool wel ’n impak het op die kwaliteit van onderwys wat aangebied word. Skole wat in voormalige wit woongebiede geleë is, presteer oor die algemeen beter as skole wat in voormalige Afrika woongebiede geleë is, maar daar is uitsonderings. Die skoolfonds betaalbaar by skole in voormalige wit woongebiede is aansienlik hoër as dié by skole in voormalige Afrika woongebiede. Daar is oor die algemeen bevind dat die kwintiel 4- en 5-skole met ’n lae opvoeder-leerling-verhouding ‘n hoë matriekslaagsyfer en hoër skoolfonds per jaar die beste gehalte onderwys bied. Die meeste vorige model C-skole val in die kwintiel 4- en 5-kategorie en word ook beskou as skole met die beste hulpbronne tot hul beskikking. Opsommend kan ook aanvaar word dat die omgewing waarin ’n skool geleë is, ’n rol speel in die gehalte onderwys wat daar aangetref word. Skole in gebiede waar hulpbronne beskibaar is (bv. gehalte-opvoeders, ordentlike geriewe, veilige omgewing, ens.), lewer beter resultate. Daar is egter ook skole met min toegang tot sekere hulpbronne wat bo verwagting goed presteer.