Grondmikrobiese gemeenskapsdinamika in die Zeekoegat Bewaringsboerdery-proef, Roodeplaat
Author: J. Habig1
Affiliation: 1Siol Microbiology Research, ARC-Plant Protection Research Institute, Pretoria, South Africa
Correspondence to: J. Habig
Postal address: ARC-Plant Protection Research Institute, Private Bag X134, Queenswood 0121, South Africa
How to cite this abstract:
Habig, J., 2013, ‘Grondmikrobiese gemeenskapsdinamika in die Zeekoegat Bewaringsboerdery-proef, Roodeplaat’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 32(1), Art. #796, 2 pages.
http://dx.doi.org/10.4102/satnt.v32i1.796
Note: This paper was initially delivered at the Annual Congress of the Biological Sciences Division of the South African Academy for Science and Art, ARC-Plant Protection Research Institute, Roodeplaat, Pretoria, South Africa on 01 October 2010.
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Referaatopsommings
|
Open Access
|
Abstract
Soil microbial community dynamies in the Zeekoegat Conservation Agriculture trial, Roodeplaat. An increasing demand exists to quantify impacts of agricultural management practices on biological properties of soil. Despite variations in soil microbial biodiversity and enzyme activities within a season under different cropping systems and tillage practices, preliminary results indicated that reduced tillage practices had a more favourable effect on soil microbial community dynamics than conventional tillage practices.
Doel
’n Toenemende aanvraag bestaan om die invloed van verskeie landboubestuurspraktyke op die fisiese-, chemiese- en biologiese eienskappe van grond te kwantifiseer. Dit is noodsaaklik om die volhoubaarheid van voorgestelde praktyke ter bevordering van grondkwaliteit te verseker. Terwyl die invloed van landboupraktyke soos grondbewerking, wisselbou, bemesting, en besproeiing op grondfisies-chemiese eienskappe bekend is, is beperkte inligting beskikbaar aangaande die invloed van dieselfde praktyke op biologiese eienskappe van grond. Mikrobiese gemeenskapsdiversiteit is ’n integrale deel van die grondkwaliteit en noodsaaklik vir die instandhouding van die ekosisteem wisselwerking. Basislyn data oor die invloed van landboubestuurspraktyke op grondmikrobiese gemeenskappe is egter selde beskikbaar vir Suid-Afrikaanse landbougrond. Die bestudering van bestuurspraktyk-invloed op grondmikrobiese diversiteit en -aktiwiteit kan navorsers in staat stel om biologiese indikators te ontwikkel vir volhoubare gewasproduksie. Met die huidige Zeekoegat Bewaringsboerdery-proef word juis getrag om sulke indikators te identifiseer.
Materiaal en metodes
Saamgestelde grondmonsters is versamel vanuit elke behandeling van die Zeekoegatproef se konvensionele- (CT) en verminderde bewerking (RT) persele tydens Oktober 2008 (seisoen 1) en Oktober 2009 (seisoen 2). Grondmonsters bestem vir grondmikrobiese funksionele diversiteitsontledings en ensiem-aktiwiteit is voorberei en gestoor teen ± 5°C voor ontleding. ’n Gedeelte van die grondmonsters is verdun en in Biolog EcoPlatesTM (Biolog® Inc., Hayward, USA) geïnokuleer, waarna die plate teen 25°C geïnkubeer is. Optiese digtheidslesings (590 nm) is geneem en verwerk om die gemiddelde putjie kleurontwikkeling (AWCD) te bepaal. Diversiteitsindekse is gebruik om funksionele diversiteit van grondmikrobiese gemeenskappe te bepaal. Die vermoë van grondmikrobiese gemeenskappe om koolstof (C), fosfor (P), en stikstof (N) te verkry, is bepaal deur ß-glukosidase, alkaliese fosfatase, suur fosfatase, en urease ensiem-aktiwiteit ontledings. Data is onderwerp aan nie-parametriese statistiese ontleding deur gebruik te maak van STATISTICA 6 (Statsoft, Inc©). Gemeenskapsvlak fisiologiese profiele is statisties ontleed met behulp van hoofkomponent analises (PCA), groeperingsontledings, en homogeen-groepering met Fisher se Kleinste Beduidende Verskil (LSD). Biodiversiteit is bepaal deur die Shannon-Weaver indeks en substraat-gelykheidsindeks.
Resultate
Ten spyte van variasie in grondmikrobiese diversiteit binne ’n seisoen onderhewig aan verskillende wisselbou en grondbewerkingspraktyke, was die mikrobiese diversiteit onderhewig aan monokultuur mielie- en mielie of vertraagde tussenverbouing stabiel, terwyl duidelike verskille waargeneem is by mielie of peulgewas wisselbou tydens seisoen 1 en seisoen 2. Volgens die Shannon-Weaver indeks het RT ’n hoër grondmikrobiese diversiteit getoon tussen seisoen 1 en seisoen 2, terwyl grondmikrobiese diversiteit in CT onveranderd gebly het. Teen die einde van seisoen 2, het die substraat-gelykheidsindeks ’n hoër grondmikrobiese diversiteit getoon in mielie of peulgewas wisselbou, as in monokultuur mielie- en mielie of vertraagde intergewas verbouing.
Gevolgtrekking
Grondvrugbaarheid en ekosisteem-werking word geëvalueer deur ensiem-aktiwiteit in verhouding tot die sirkulering van koolstof, stikstof en die vrystelling van anorganiese fosfor in grond na te gaan. Die toename in ensiem-aktiwiteit met die verloop van die seisoen kan toegeskryf word aan wortel-afskeidings, wat lei tot stimulasie van grondmikrobiese gemeenskappe. Grondbewerking, wisselbou en bemesting het ’n besonder duidelike invloed op ß-glukosidase aktwiteit gehad. Voorlopige resultate teen die einde van seisoen 2 dui op hoër ensiem-aktiwiteit in RT, as in CT. Op hierdie stadium blyk RT praktyke ’n gunstige uitwerking te hê op grondmikrobiese gemeenskapsvlak fisiologiese profiele, mikrobiese diversiteit, en ensiem-aktiwiteit. Korrekte grondbewerking en wisselbou kan stimulasie van grondmikrobiese gemeenskappe bevorder deur die geredelike beskikbaarheid van koolstofbronne. Sodoende word ensiem-aktiwiteit en grondmikrobiese diversiteit bevorder, en gevolglik, verhoogde grondkwaliteit en -vrugbaarheid wat ’n betekenisvolle uitwerking het op die volhoubaarheid van landboubestuurspraktyke. Met die toenemende bewuswording van die belangrikheid van grondmikrobiologie in die landboubedryf, is dit duideiik dat mikrobiese biodiversiteit ’n meer belangrike komponent moet word in toekomstige grondontledings.
|