Plantegroei van klinieke in die Dr Kenneth Kaunda distriksmunispaliteit, Noordwes Provinsie
Authors: C. Pretorius1; E. Prinsloo1; L. Powrie1; M. Theunissen1; Sarel S. Cilliers1
Affiliations: 1School for Environmental Sciences and Development, Botany, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Correspondence to: C. Pretorius
Postal address: Private Bag X6001, Potchefstroom Campus, North-West University, Potchefstroom 2520, South Africa
How to cite this abstract:
Pretorius, C., Prinsloo, E., Powrie, L., Theunissen, M. & Cilliers, S.S., 2012, ‘Plantegroei van klinieke in die Dr Kenneth Kaunda distriksmunispaliteit, Noordwes Provinsie’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 31(1), Art. #322, 1 page.
http://dx.doi.org/10.4102/satnt.v31i1.322
Note: This abstract was initially presented at the annual Biological Sciences Symposium, presented under the protection of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. The symposium was held at the University of Johannesburg on 01 October 2011.
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the
Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution,
and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Referaatopsommings
|
Open Access
|
Abstract
Vegetation of the clinics of the Dr Kenneth Kaunda District Municipality, North West Province. In this study 26 clinic gardens were studied in terms of plant species composition, richness and ecosystem services. Management and other social aspects of these gardens were also investigated.
Inhoud
Stedelike ekosisteme is komplekse sosio-ekologiese sisteme wat belangrike dienste aan die stedelike omgewing kan voorsien. Die konsep van ekosisteemdienste beskryf die natuurlike prosesse waarop die mens vir gesondheid, welsyn en algemene oorlewing kan staatmaak. Ekosisteemdienste word in vier kategorieë verdeel, naamlik voorsieningsdienste, reguleringsdienste, ondersteuningsdienste en kulturele dienste. Alhoewel verstedeliking dikwels ‘n negatiewe invloed op ekosisteme uitoefen, bly daar tog plantspesies behoue of word aangeplant wat noodsaaklike ekosisteemdienste verrig. In hierdie studie is die plantspesiesamestelling, spesierykheid en voorsieningsdienste van plantspesies in ‘n aantal kliniektuine in een van die distriksmunisipaliteite in die Noordwes-provinsie bestudeer. Hierdie studie is onderneem op versoek van die Departement van Gesondheid in die provinsie. Hulle vestig tans ‘n inisiatief om groentetuine te ontwikkel, met ander woorde om die ekosisteemdienste van hulle tuine te verhoog. Vir die meeste indiviue is klinieke die beginpunt van gesondheidsorg en die ideaal is dus gestel om die kliniekomgewing ‘n gesonde en helende omgewing te maak. Op hierdie stadium is daar egter geen inligting oor die samestelling en beskikbaarheid van hulpbronne soos water, betrokkenheid van die publiek en die algemene bestuur van kliniektuine in die provinsie beskikbaar nie.In hierdie studie is 26 klinieke in die Dr Kenneth Kaunda Munisipale Distrik, bestudeer. Totale plantspesiesamestelling van alle klinieke is bepaal. Alle plantspesies is verder verdeel op grond van hulle uitheemse, inheemse en natuurlike status, sowel as die moontlike voorsieningsdienste wat hulle kan verrig, soos byvoorbeeld voedsel en medisinaal van aard. Dit is verder ook aangetoon watter van die plantspesies slegs van ornamentele waarde is en watter ‘n belangrike kulturele funksie is. Vorige studies van privaattuine het aangetoon dat tradisionele Tswana-tuine (tshimos) ‘n spesifieke tuinuitleg het en vasgestelde gebiede bevat. In hierdie studie is aangetoon hoeveel van die gebiede in die kliniektuine aangetref is en is ook in verband gebring met die plantspesierykheid van die tuine. Datakonsolidering en -prosessering is uitgevoer deur meervoudige data-analise tegnieke in die vorm van ordenings in CANOCO. Vraelyste is ook voltooi om spesifieke sosiale aspekte te ondersoek, veral ten opsigte van beskikbaarheid van hulpbronne, betrokkenheid van die publiek en die algemene bestuur van die tuine. ‘n Totaal van 260 plantspesies waarvan 148 uitheems, 97 natuurlik en 15 inheems (in Suid-Afrika, maar nie natuurlik in omgewing nie) het voorgekom. Uitheemse spesies is hoofsaaklik groente-, ornamentele- en onkruidspesies. Spesiesamestelling van die kliniektuine varieer baie soos aangetoon deur uitskieters in die ordenings. Die enigste groepering van tuine wat in die ordenings waargeneem kon word is gebaseer op die teenwoordigheid of afwesigheid van groentetuine. Vier van die klinieke het geen tuine gehad nie en by slegs sewe uit die 26 kliniektuine is gevestigde groentetuine aangetref. Dit dui enersyds op ‘n gebrek aan belangstelling in die aanplant van groente, maar andersyds ook op die potensiaal vir verdere ontwikkeling van groentetuine in die streek. Die kliniektuine wat natuurlike gebiede ingesluit het (64%), asook die tuine waar oop, ongebruikte persele voorkom, besit die potensiaal om vir verdere ontwikkeling van bruikbare plantspesies en -tuinuitlegte gebruik te word.Vraelyste oor die sosiale aspekte het insiggewende resultate gelewer, en is in meer besonderhede in die plakkaat aangetoon. Die belangrikste rede vir die ontwikkeling van groentetuine is die gratis voorsiening van gesonde voedsel aan die gemeenskap. Die bestuur en onderhoud van die tuine is meestal deur vrywilligers vanuit die gemeenskap en ander staatsdepartemente behartig. Dit is opvallend dat menslike immuniteitsgebreksindroom (MIV) en Tuberkulose (TB) ondersteuningsgroepe ‘n lae betrokkenheid by die ontwikkeling en bestuur van groentetuine gehad het. Die meeste klinieke beskik egter oor die nodige toerusting en hulpbronne vir die vestiging en onderhoud van die tuine. Die ontwikkeling van tuine bied geleenthede om die gemeenskap en werknemers van die klinieke op te voed oor volhoubare- en verantwoordelike bestuur en ontwikkeling van bruikbare tuine.
|